GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 9 JUNIE 2024
RCL JAAR B – DERDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 130)
Here – my Heer, ek nader U met diep berou.
Hoor my stem en luister aandagtig.
Ek staan smekend voor U in sondeskuld.
Ek pleit om u ontsagwekkende vergifnis.
Here – my Heer, ondenkbaar enige omstandigheid,
waarin U weier om my sondeskuld te vergewe.
Ontstellend die besef niemand kan staande bly,
wanneer U ons sondeskuld regverdig oordeel nie.
Here – my Heer, die keuses wat ek dikwels maak,
werp my in diepstes van donker verstrengeling.
My dwase optrede laat my van U vervreem,
maar u genade leer my dat U bevry.
Luister tog aandagtig na my smeekbede, Here!
Here – my Heer, vanuit die diepte van sondeskuld,
kan die mens allerlei uitweë ondersoek.
Adam en Eva in die tuin, het vir U weggekruip.
Die psalmis wag op U. Ek wil dit navolg.
Here – my Heer, om op U te wag gee hoop.
Ek kies ook om op U te wag, soos die psalmis.
Ek wag met alles in my op die nuwe dag.
U vergifnis bevestig my hoop op u woord.
Here – my Heer, nou het ek ’n boodskap,
vir elkeen in die dieptes van sondeskuld:
vestig jul hoop op die Heer van troue liefde!
By U, Here, is volkome bevryding.
Dankie, Here. U het na ons smeekbede geluister.
Amen