TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Tweede week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 7 Junie 2024
MARKUS 2:23-3:6
Koninkrykstyd in die Kerkjaar skep ruimte vir toerusting en skoling oor dissipelskap. In die tweede week van Koninkrykstyd nooi die Revised Common Lectionary ons om na te dink oor die tema van die Sabbat (rusdag) in Markus se verhaal oor Jesus se aardse bediening. Ons Skrifdeel gee drie persektiewe op dié tema. Eers is die aandag op Jesus se dissipels wat op die Sabbat are pluk van die gesaaides (2:23-26). Dan maak Jesus twee uitsprake oor die wese van die Sabbat (2:27-28). Derdens genees Jesus ’n man met ’n verdorde hand op die Sabbat in die sinagoge, met teenkanting van die Fariseërs (3:1-6).
Onderhouding van die Sabbat was een van die Tien Gebooie wat God vir Israel gegee het. Die gesag daarvan is deur die profete en voortgesette Joodse onderrig bevestig. Dit het oor tyd heen die Jode onderskei van hul heiden bure en hulle herinner hulle is God se volk (’n teken hulle behoort aan die ware God). Dit was ook ’n nasionale simbool wat wys op toekomstige vryheid, simbool van hoop op die groot rusdag wanneer God uiteindelik Israel van heidense onderdrukking sal bevry. Onderhouding van die Sabbat bied ’n terugblik op die skepping van die aarde en die Eksodus uit Egipte. As Skepper van die aarde het God op die sewende dag gerus. Daarin het ware Jode vir God nagevolg.
In Jesus se reaksie op die Fariseërs se kritiek oor die dissipels wat op die Sabbat koringare pluk, ontken Hy nie dat sy dissipels kontra die tradisionele sabbatsonderhouding handel nie. Jesus pleit egter vir uitsonderlike beoordeling op grond van die Skrifte (2:25-26). Hy noem ’n historiese nood situasie waar Dawid en sy volgelinge die vertoonbrode (wat net die priesters kon eet) in die huis van God geëet het. Jesus stel Homself gelyk aan Koning Dawid met die implikasie dat Jesus die ware koning is. Hierdie tipe sabbatsverbreking is volgens Jesus se argument ’n doelbewuste teken dat die Koning teenwoordig is en dat de koninkryk nou aanbreek. Die nuwe skepping breek reeds oor die ou wêreld.
Die twee spreuke in Markus 2:27-28 vat Jesus se argument saam en lewer kommentaar op die Sabbat, asook op Jesus se gesag. Die ‘Seun van die Mens’-titel in vers 28 dui op een betekenis daarvan, naamlik die messiaanse figuur wat die eerste eeuse Jode in Daniël 7 ontdek het. Sy aankoms en troonbestyging sou die begin van God se koninkryk aankondig. Met sy uitspraak bedoel Jesus dat die Messias, die ware verteenwoordigende mens, gesag het oor instellings waardeur mense onderdruk word. Jesus se optrede en verklaring in dié geval, is ’n soort gekodeerde messiaanse aanspraak dat die nuwe dag in die persoon van Jesus aanbreek. Dit laat skyn nuwe lig op Israel se God-gegewe wette. (NT Wright)
Die derde perspektief op die Sabbat in ons Skrifdeel is waar Jesus ’n man met ’n verdorde hand genees (3:1-5). Die Fariseërs het sabbatsonderhouding as teken en simbool van hul identiteit as Jode en volk van God, ernstig opgeneem. Daarom hou hulle Jesus met valkoë dop of Hy nie die volk verlei nie. Toe Jesus die man in die sinagoge se nood sien, het Hy die mense gevra wat toelaatbaar is op die Sabbat; om goed te doen of om sleg te doen (3:4). Hulle het Jesus nié geantwoord nie. Markus beskryf dan Jesus se reaksie met twee emosies; woede en droefheid (3:5). Jesus was bedroef oor die mense se gesindheid in hulle onderhouding van die Sabbat. Hy beskryf hulle gesindheid as ‘die hartheid van hulle harte.’ Vir hulle was die reël belangriker as die werklike nood van mense.
Jesus skyn die lig op God se koninkryk wat aanbreek waar Hý (Jesus) die wêreld se nood verlig. Jesus se optrede het die God van liefde in die wêreld openbaar. Die gesag waarop Jesus aanspraak gemaak en wat Hy uitgeoefen het, was ten diepste die verkondiging van God se bediening aan die mensdom. God het die wel-wese van mense op die hart, nie nakoming van reëls ter wille van reëls nie.