TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Derde week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 14 Junie 2024
MARKUS 3:20-35
Die tyd na Pinkster in die Kerkjaar (Koninkrykstyd), gee dié jaar geleentheid om 27 weke lank na te dink oor Jesus se heerskappy aan God se regterhand, asook oor aspekte van dissipelskap in verbondenheid met Christus. Een manier om die tweeledige fokus van Koninkrykstyd te verwoord, is om te vra na wat die tekste van die Bybel (wat ons in dié seisoen van die Kerkjaar oordink), oor God aan ons openbaar, asook wat dit ons leer oor dissipelskap. In die derde week van Koninkrykstyd stel die Revised Common Lectionary ons voor die tema van identiteit. In Markus 3:20-30 gee twee groepe mense hul mening oor Jesus. In vers 31-35 verklaar Jesus dan wie sy geestelike familie (sy dissipels) is.
Vers 20 beskryf ’n toneel binne die ruimte van ’n huis waar die skare rondom Jesus saamdrom. Die toneel bevat konflik potensiaal oor Jesus se teenwoordigheid en optrede. Die 2020-vertaling gebruik die uitdrukking “sy eie mense” (later meer hieroor), wat wou voorkom dat geweld oor Jesus se teenwoordigheid uitbreek. Daar was dus opbouende spanning tussen Jesus en mense uit die Joodse gemeenskap. Volgens vers 21 het Jesus se ‘eie mense’ geoordeel dat “Hy van sy sinne beroof was”. Terwyl hulle Jesus se geestestoestand bevraagteken, verklaar skrifkenners van Jerusalem dat Jesus onder die mag van Beëlsebul, aanvoerder van die demone, optree. Mense het menings oor Jesus!
In vers 23-27 reageer Jesus op die skrifkenners se beoordeling van die gesag waarmee Hy optree. Jesus gebruik beelde om die dwaasheid van verdeeldheid in hul argument te ontbloot. Dié kenners van God se wet, kon nie God se hand raaksien in die dinge wat Jesus doen nie. Hulle gevolgtrekking is, Jesus is kop in een mus met Satan. Jesus reageer egter daarop dat geen gesag staande kan bly as daar verdeeldheid is nie. Die skrifkenners ontken nie dat daar werklik ’n krag deur Jesus werksaam is nie. Hulle was egter onkundig oor wie se krag werksaam was in Jesus se bediening. Jesus het nie aan hulle godsdienstige verwagtinge voldoen nie. Daarom verklaar hulle Jesus as hulle vyand, asook God se vyand. Hulle het God nie herken nie en die Heilige Gees se getuienis oor Jesus gelaster (vers 28-30)!
In vers 31-35 keer Markus terug na die tema van vers 21. Die ‘eie mense’ word nou beskryf as: “Sy moeder en sy broers” (vers 31), en: “Kyk, u moeder en u broers en u suster…” (vers 32). Die Griekse uitdrukking wat die 2020-vertaling met ‘eie mense’ vertaal, is letterlik ‘die van Hom’, en word vertaal as “sy familie” (vgl. 1983-vertaling). Markus gebruik die familie-metafoor om oor Jesus se volgelinge te praat. As Jesus in vers 33 vra: “Wie is my moeder en my broers?” is dit nie disrespekvol nie. Wat Jesus wel beklemtoon, is dat herkenning van Hom as Seun van God (Mark 1:11) ’n nuwe familie vestig. Die kriterium vir deelword van hierdie nuwe familie, is om die wil van God te doen (vers 35).
Jesus klaar die misverstand op oor wie Hy is en wie deel vorm van sy geloofsfamilie (sy dissipels). Historiese ervarings, verbintenisse en kennis is nie bepalend vir verbondenheid aan God nie. Verbintenis aan God in Jesus Christus word sigbaar wanneer mense (ons) hier en nou geloofsgetrou reageer op God se werke. Jesus se laaste woorde van dié konflik nooi ons om oop te wees vir God se teenwoordigheid in ons lewe en om daarop te reageer. “Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” (vers 35) God skep ’n nuwe heilige gemeenskap, waarvan menslike familiebande nie sy vertrekpunt is nie, maar wel gehoorsame verbondenheid aan Christus.