TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Een en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 18 Oktober 2024
MARKUS 10:17-31
Jesus hervat sy reis na Jerusalem nadat Hy in die gebied van Judea (10:1, 17) vertoef het. Markus is in die laaste deel van sy tweede siklus van profesie, misverstand en lering (hfst 8-10). Hou rekening met die twee verhale oor blinde persone vir wie Jesus genees het (8:22-26; 10:46-52), met die blindheid-en-sien-tema wat dit aan die orde stel. Die agtergrond van elke toneel in dié verhaal eenheid is Jesus se driemalige aankondiging van sy lyding en sterwe (8:31; 9:31; 10:33), asook die dissipels se onbegrip van Jesus se lering oor God se koninkryk (ook vers 23-25). In ons Skrifdeel beweeg Markus wéér tussen Jesus se openbare gesprek met mense en privaat onderrig aan sy dissipels. Hier kom ’n onbekende persoon na Jesus toe met ’n versoek (vers 17-22). Ná Jesus se interaksie met dié man wend Jesus Hom tot sy dissipels en leer hulle hoe moeilik dit is om in die koninkryk van God in te gaan (vers 23).
Matteus 19:20 en 22 noem die onbekende man ’n ‘jong man’ en Lukas 18:18 noem hom ‘maghebber’. Hy het na Jesus toe gehardloop en gevra wat hy moet doen sodat hy die ewige lewe kan erf (vers 17). Die begrip “ewige lewe” bring die tema van teenwoordige- en die toekomstige tydsgewrigte ter sprake (Eng: ‘Present Age’ en ‘Age to Come’). Vir eerste eeuse Jode was hul eie tyd (teenwoordige) gekenmerk deur sonde en onreg. Hulle het met die verwagting geleef dat iets spesiaal gaan gebeur wat hulle omstandighede totaal sou transformeer (toekomstige tydsgewrig). Dit is die agtergrond vir die man se vraag aan Jesus. Soos sy tydgenote wou hy seker weet of hy een van die mense sal wees wat die toekomstige tyd (ewige lewe) sal erf en indien wel, hoe sal dit gebeur? Wat kan/moet hy doen?
In Jesus se reaksie op die man se versoek, gebruik Jesus die uitdrukking “’n skat in die hemel hê” (vers 21). Wanneer Hy Hom tot die dissipels wend, praat Jesus van “die koninkryk van God ingaan” (verse 23, 24, 25), asook van “die bedeling wat kom, die ewige lewe” (vers 30). Dié verskillende uitdrukkings dui op dieselfde verskynsel (dieselfde betekenis). Dit wys op dié tydperk waarin God uiteindelik die wêreld sal regeer soos wat Hy altyd wou doen. Wanneer die toekomstige tydsgewrig aanbreek, sal God die hemel en aarde finaal verenig (versoen) en sal die ‘skat’ wat God vir gelowiges bewaar het, tot hul beskikking wees om te geniet. Die woord “ewig” dui dus op die feit dat gelowiges deel is van (behoort tot) die toekomstige tydsgewrig (Age to Come). Dit is wat die man begeer het.
Jesus reageer op die man se versoek deur ’n deel van die tweede tafel van die Tien Gebooie te noem. Dit was volgens Joodse godsdienstige oortuigings kenmerkend van ’n gelowige leefwyse wat toegang gee tot die toekomstige tydsgewrig. Markus skryf Jesus het die man met liefde aangekyk oor sy getuienis dat hy van kleins af getrou was aan dié leefwyse. Tog sê Jesus: “Een ding kom jy kort.” Die sleutel om dié uitspraak te ontsluit, is die manier waarop Jesus die gebooie aanhaal. Sy lys begin met nommers 6 tot 9 van die gebooie (moord, egbreuk, steel, vals getuienis) met ’n bykomende element (bedrog) en dan terug na die vyfde gebod (eerbied vir vader en moeder) (vers 19). Jesus laat gebooie 1-4 (God eerste stel; geen afgode; nie God se Naam onteer nie; die sabbat) en 10 (nie begeer nie) weg.
Met Jesus se aanhaling van die Tien Gebooie stel Hy die eis om afgode en begeerte na besittings te laat vaar: “gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes” (vers 21). Jesus rig die uitdaging tot radikale besinning oor wat dit beteken om God werklik eerste te stel en nie sy Naam ydellik te gebruik nie: “Waarom noem jy My goed?” (vers 18). Net God is goed (vers 19). “En jy, kom hier, volg My” (vers 21). In Jesus is God se koninkryk op hande (1:15). Omdat Jesus hiér is, gaan ’n hele nuwe wêreld oop. God keer alles om, maak alles nuut. Vir Hom is alles moontlik. Die toekomstige tydsgewrig breek deur in ons hede. Dit is die één ding (enigste ding) wat ons moet omhels. Beide die man (vers 22) en Jesus se dissipels (vers 26) het dit nie verstaan nie, nie ingesien nie.