Die krag van gebed

Vera Blaauw, pastorale werker van Arbeidsbediening in die Paarl, stel William Plaatjies aan die woord oor twee van die vele getuienisstories van die baie wat hy graag met ons deel:

“Een Maandag terwyl ek weer besig was met my bediening by een van my bedieningspunte, die Luthando Frail Care Centre, sien ek ’n verlamde vrou in ’n rolstoel, terwyl iemand besig was om haar hare te doen. Ek kon sien sy is glad nie haarself nie.

“Na die diens gaan ek na haar toe en vra of ek vir haar kan bid, waarop sy toe instem. Die haarkapper vra toe of sy saam met my in gebed vir die vrou kan intree.

“Die volgende Maandag kom die vrou wat die mense se hare doen na my en vertel aan my dat sy die naweek by Zebro’s was – ’n plek waar sy nooit kom nie – en ’n vrou vra haar of sy haar herken. Sy sê toe: ‘Ek is die vrou vir wie julle verlede Maandag gebid het; kyk, ek is heeltemal gesond!

“Die vrou wat hare doen, wys toe aan my ’n foto as bewys van die verlamde vrou wat weer kon loop.”

William vertel verder: “’n Paar maande daarna was daar ’n jong man, Daniël  wat aan geheueverlies gely het by Luthando Frail Care Centre. Hy kon nie onthou waarvandaan hy kom en waarheen hy moet gaan nie. Ek het toe vir hom gaan bid waarna hy sy hart vir die Here gegee het.

“Die Maandag daarna vind ek toe uit dat Luthando ’n foto van Daniël in die Paarl Post laat plaas het om te kyk of iemand hom nie dalk herken nie. En sowaar! Hy is deur een van sy skoolmaats herken wat hom toe self by sy ma besorg het.

“Ek is opgewonde om in die areas te gaan werk waar ek nog nooit was nie,” getuig William, “God soek net iemand wat bereid is om sy werk te help doen.”

Kontak Vera Blaauw by verablaauw47@gmail.com vir meer inligting.