FOTO: Twee van die polisiebeamptes van die SAP Polisiestasie op George wat onlangs ons Facebook-lesers aangegeryp het oor die deernis waarmee hulle ‘n oortreder hanteer het.
Die plaaslike tak van die George PAK (Plaaslike Aksie-komitee) het oor die afglope tyd ‘n baie goeie verhouding met die SAP Bevelsgroep opgebou. Ten spyte van hierdie goeie verhouding, het die tak egter gesukkel om die deure oop te kry om dienswerk per stasie te kan doen.
Die rede hiervoor was maar die geweldige besige program van stasiebevelvoerders en die tekort aan hulle mannekrag. Die goeie nuus is dat die deur nou by die George-stasie oopgegaan het – iets waaroor die Arbeidsbediening baie dankbaar is, aangesien dit nogal ‘n groot stasie is. Daar word twee diensbeurte per week aangebied – een tydens die ruil van die operasionele groep se skofte en een vir die administratiewe groep.
Hulle is geseën met ‘n dienswerker wat ‘n senior offisier in die SAP was en die mense baie goed verstaan. Die terugvoer oor sy bediening is baie positief.
Die George-tak is baie opgewonde oor die deure wat vir hulle oopgaan en glo dat die proses hiervandaan makliker sal verloop om ook na ander stasies uit te reik.
Dit sal beteken dat George ander Arbeidsbedieningsaksies sal moet betrek om hulp in hierdie SAP-bediening, aangesien hierdie Bevelsgroep baie wyd strek.
Kontak
Carin Brink
cbrink@kaapkerk.co.za