FOTO: George Kuyler (middel) ‘n paar jaar gelede by twee plaasarbeiders, Marius Booysen (links) en Tinus Frans (regs).
George se plaasbediening volg nou al hul derde dissipelskapprogram. George Kuyler wat dit aanvanklik begin het, en steeds daarmee besig is, vertel: “Die plaas waarby ek betrokke is, het toestemming gegee dat ek elke Dinsdag vanaf halftwaalf tot halfeen tyd aan die plaasarbeiders geestelike opleiding kan gee. Taal is ‘n reuse-uitdaging; die mense kan of net Afrikaans, of net Xhosa, of Chichewa (van Malawi) en gebrekkige Engels verstaan.
“Lees is ook ‘n baie groot uitdaging omdat sommige net ‘n lae skolastiese opleiding het. Daar word van ‘n tolk gebruik gemaak, maar dit bly maar vir party moeilik om begrippe in die dissipelskapprogram te verstaan.”
Daarom het hulle vanjaar met ‘n “Challenge” begin om die Bybel beter te leer ken. Die een week doen hulle ‘n gedeelte uit die dissipelskapprogram en die daaropvolgende week behandel hulle twee hoofstukke uit ‘n Bybelboek.
Vanjaar het hulle met Genesis begin. Die wat kan lees, moes die hoofstukke tuis gaan lees en dan die stories kom deel mekaar. So maak hulle seker hulle verstaan wat die storie se oorspronklike bedoeling was.
Hulle fokus is om God beter te laat ken en dat hulle hieruit hul gebedslewe kan ontwikkel en dan as skadubeeld van Jesus Christus kan leef.
Hulle is baie opgewonde oor die groei wat plaasgevind het met die behandeling van die boek, Genesis en hoeveel sin sekere goed nou vir hulle begin maak.
Wat hulle opgewonde maak, is dat hulle ten spyte van die min kennis wat hulle het, vir Jesus in die boek, Genesis raaklees. “Ons is opgewonde oor die boodskap en demonstrasie van geloof en gehoorsaamheid van gelowiges in Genesis. Ons kan dit optel in die boodskap wat Jesus ons geleer het,” vertel George.
“It’s Friday; Sunday is coming”, is hulle spesiale groet vir mekaar op Vrydae en word as kredo gebruik om daarmee mekaar daaraan te herinner dat hulle ‘n spesiale opdrag gekry het. Maandae sê hulle weer vir mekaar: “It’s Monday; Tuesday is coming.”
Daarmee bevesitig hulle dat hulle geredde mense is en hul opdrag verstaan om as geroepenes te leef.
Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.