Deesdae is die nie net seelui wat lewensmiddele aan die mense van die wêreld voorsien nie; daar word tot 90% van die wêreld se verbruiksgoedere oor die hele wêreld per see vervoer. Dit is die goedkoopste manier om goedere oor die wêreld te vervoer en die wêreldekonomie is van die industrie afhanklik. Daar is dus nie ‘n mens in Suid-Afrika wat kan sê dat hulle lewens nie deur die 1.5 miljoen seelui geraak word nie. Hierdie mense doen hul werk onder moeilike omstandighede en sommige word selfs in moderne slawehandel ingetrek. Soms word hulle mishandel, karige lone betaal en in sommige gevalle selfs vermoor.
Net vanuit hierdie agtergrond het ons almal alreeds ‘n verantwoordelikheid teenoor die mense wat soveel gerief in ons lewens bring. Maar die Bybel leer ons ook dat die verdrukte en verontregte vreemdelinge op ons pad ons verantwoordelikheid is en deur goed te doen aan hulle, maak ons ‘n lening aan God! Tog is ons grootste oorweging om die evangelie, net soos onse Here Jesus, aan hierdie mense te bring wat van alle wêrelddele na ons kom. Vir Biblia is dit ‘n geleentheid wat die kerk nie durf waag om by hulle te laat verbygaan nie – ‘n geleentheid om die Woord van God na die wêreld uit te stuur. Dit maak dit steeds die goedkoopste manier om die evangelie na alle deel van die wêreld te stuur. Daar is soveel stories van mense wat getuig hoedat hulle die Woord aan hulle families gebring het, stories van mense wat terugkom om Bybels en hulpmateriaal van Biblia kom vra, omdat ander familie en vriende ook graag die Bybelse boodskap wil hoor.
Verlede week het daar ‘n besondere konferensie by The Willows in Port Elizabeth plaasgevind. Verteenwoordigers van IMSA (Industrial Ministry South Africa)-, Transnet- en Biblia Nasionaal het dit bygewoon. IMSA is verteenwoordig vanaf Gauteng, Kwazulu-Natal, Vrystaat, Oos-Kaap en die Wes-Kaap, terwyl Biblia verteenwoordig was deur komiteelede en hul hawebedienaars van Saldanha, Kaapstad, Houtbaai, Kalkbaai, Mosselbaai, Port Elizabeth, Durban en Richardsbaai. Beide IMSA – en Biblia Nasionaal se algemene jaarvergaderings het ook tydens hierdie geleentheid plaasgevind.
Sedert die besluit vroeër vanjaar geneem is om die werk van IMSA onder een sambreelliggaam anders te registreer, is daar vir meer as ‘n jaar verskillende opsies oorweeg oor hoe hierdie werk in die arbeidsveld (wat verskillende vertakkinge gehad het) onder so ‘n sambreel geakkommodeer kon word.
Uiteindelik is daar op ‘n model van vrye assossiasie besluit en was die konferensie die ideale geleentheid om uitvoering te gee aan ‘n formele struktuur. Tydens die vergadering het die voorsitter van Arbeidsbediening, Zithulele Cindi, ‘n breedvoerige oorsig oor die ontstaansgeskeidenis van Arbeidsbediening gegee en hoe dit in ons land binne die NG Kerk gestalte gekry het. Die ontwikkeling van die bediening het vroeg begin kennis neem dat hierdie ‘n ekumeniese bediening behoort te wees en dat ander rolspelers in plekke van werk ook die geleentheid behoort te kan hê om inspraak te lewer oor die behoeftes wat hulle raak.
Die ondervoorsitter van IMSA Wes-Kaap, Eddie Orsmond het die onderwerp, Die kerk en haar bedieninge, tydens die konferensie aangebied. In sy aanbieding het hy veral die 4 fokusareas uitgelig:
- Die kerk en haar roeping om mense te bedien;
- Die kerk (denominasies) se beleid en hulle organisatoriese strukture;
- Die hulpbronne en fondse tot beskikking van die bedienige moet effektiewe bediening te verseker;
- Die belang van kapasiteitsontwikkeling, volhoubare oogmerke en aktiewe bewusmaking van die bedieningsoogmerke.
Die grondwet om die samewerking van die verskillende bedieninge in die arbeidsveld te help bewerkstellig, is aanvaar. Hierdie liggaam sal dan veral fokus op die ondersteuning van die verskillende bedieninge, veral met die oog daarop om hulle kapasiteit te help bou, te help met opleiding en om saam met die verskillende organisasies hulle bedieninge in die breë kerkverbande (ook ekumenies) bekend te maak.
Tydens verlede week se konferensie is daar ook ‘n grondwet vir Biblia aanvaar wat hulle in staat sal stel om struktuur in plek te kry. Dit sal bydra dat Biblia planmatig die bedieninge op die hawens kan ondersteun in hulle eie ontwikkeling en om hulle te help om hul kapasiteit te ontwikkel.
Die vorige voorsitter, Rodney van Wyk, is as voorsitter herkies en daar was groot waardering teenoor Dane du Plessis, wat saam met die voorsitter weer die belang van die werk van Biblia op die voorgrond geplaas het, uitgespreek. Daar is nou, nadat Rodney en Dane in Oktober vanjaar Biblia Internasionaal se Konferensie in Kaoshiung, Taiwan, bygewoon het, internasionale erkening vir die werk wat Biblia in Suid-Afrika doen. Daarom behoort die stigters van Biblia (die NG Kerk, Gereformeerde kerke en VGK) op hoogte te bly van die belangrike werk wat die kerke deur Biblia doen.
Biblia is afhanklik van die finansiële ondersteuning van ons kerke om te verseker dat daar hawebedienaars is om met die bediening van die Woord voort te gaan. Hierdie bedienaars moet ook prakties die boodskap van die Bybel teenoor die mense uitleef en moet soms voedsel, klere en selfs, waar mense mishandel word, kan intree.
Kontak
Rodney van Wyk
rodneyvw@netactive.co.za